Articles

Kinders wat byt

Deur Hanlie Snyman

Hierdie vorm van gedrag laat ouers dikwels skrik, veral wanneer jou kind die byter is. Maar tog is hierdie gedrag baie algemeen onder jong kinders, en is daar verseker ’n paar maniere vir ouers en klasopvoeders om hierdie gedrag te hanteer.

Waarom doen kinders dit?

Wanneer ’n kind byt, is hy eintlik besig om te eksperimenteer. Baba’s byt die bors van hulle ma, of die vingers en skouers van hulle ouers. ’n Kind moet eksperimenteer ten einde te leer. Deur die reaksie van ’n vowassene (skrik, eina te sê, te wys jy is kwaad) leer die kind dat dit nie sosiaal aanvaarbaar is om te byt nie.

Dit kom veral voor by kinders tussen die ouderdom van 1,5 en 4 jaar en gebeur gewoonlik wanneer die kind bang of gefrustreerd voel. Kinders van hierdie ouderdom leeftyd noem mens peuters. Hulle beskik nog nie altyd oor voldoende selfbeheersing nie, en reageer dikwels impulsief en agressief deur te byt, te slaan, hare te trek, ens. Die rede hiervoor is dat hulle nog nie oor ’n voldoende woordeskat beskik om hulleself goed uit te druk nie.

Hierdie gedrag kan ook ontstaan weens ’n mate van spanning wat peuters ervaar by groot veranderinge. Byvoorbeeld die geboorte van ’n boetie of sussie, ouers wat skei, verandering van au pair, blootstelling aan geweld op televisie, die afwesigheid van ’n ouer, ens. Die kind ken nog nie die woorde om te sê hoe hy of sy voel nie. So mens kan verstaan hoekom hy homself op ’n meer fisiese manier uitdruk.

Beteken dit iets?

Ouers skrik soms groot wanneer hulle kind ’n ander byt, maar onthou, hierdie gedrag is nie altyd agressief bedoel nie. Soms kan honger, tandjies wat uitkom, of bloot nuuskierigheid ook die aanleiding gee vir ’n peuter om ’n ander kind te byt. Hierdie is tot ’n mate ook ouderdomstoepaslike gedrag, maar dit beteken egter nie dat dit toegelaat mag word nie.

Wanneer hierdie gedrag aanhou by jou kind, of as jou kind homself en ander kinders ernstig seermaak in die proses, is dit belangrik om hulp by ’n professionele persoon te soek.

Wat kan jy as ouer doen?

Indien jou kind aangespreek word oor hierdie gedrag, maar nog steeds voortgaan daarmee, is dit belangrik dat die kind gestraf moet word wanneer hy/sy byt.

  • Gee ’n duidelike, kort straf, wat in verhouding is met die foutiewe gedrag. ’n Kind wat nie toegelaat word om die hele middag te speel nie, omdat hy ’n ander gebyt het, is nie passend by sy ontwikkelingsfase nie.
  • Gee erkenning aan die kind se gevoel, maar keur sy gedrag af.
  • Moenie straf uitdeel sonder om ’n alternatiewe vorm van gedrag voor te stel aan die kind nie.
  • Indien sibbe mekaar byt, kan mens nooit voorstel dat teruggebyt moet word nie. Dit gee ’n verwarrende boodskap aan die kind.

By die crèche

Kinders wat mekaar byt kom baie voor in ’n crèche of kleuterskool. Dit is amper soos ’n epidemie: sodra een kind daarmee begin, byt die helfte van die peuters mekaar teen die einde van die week!

Wenke vir klasopvoeders

  • Goeie struktuur en duidelikheid gee ’n kind die gevoel van veiligheid en rustigheid. ’n Vaste dagroetine, duidelike reëls en konsekwensies en ’n goeie inrigting van die speelruimte is belangrike faktore hier.
  • Deur te verwoord wat gaan gebeur, sal die kind besef dat hy anders moet optree. ’n Kind het nie altyd ’n begrip van sy eie, sowel as die groep se optrede nie, en ook nie oor die gevolge van sy/haar gedrag nie.
  • Soms kom ongewenste gedrag voor uit verveling en niksdoen. Maak tyd vir speletjies wat die kinders uitdaag en stimuleer.

Goeie kommunikasie tussen ouers en klasopvoeders

  • Verduidelik aan ouers hoekom sommige kinders byt: Dit pas by die ontwikkeling en ’n kind moet leer dat dit onaanvaarbaar is.
  • Die kind wat gebyt het: ’n Gesamentlike aanpak tussen die crèche/kleuterskool en die huis. Kyk saam wat haalbaar en wenslik is vir die kind.
  • Vir die kind wat gebyt was: Probeer verstaan hoe dit gebeur het, asook waar en wanneer. Verduidelik vir die kind wat jy gaan doen om hierdie gedrag te hanteer en te voorkom in die toekoms.

Wat is jou alternatiewe?

Soek moontlike oorsake. Probeer uitvind in watter situasies jou kind byt. Is dit wanneer hy moeg is? Wanneer hy buite speel? Wie byt vir wie? Het die kind frustrasies (is daar byvoorbeeld iemand wat sy speelgoed wegvat)?

Voorkom moeilike situasies deur vir ’n tyd lank twee kinders waarvan die een altyd die ander byt, nie saam te laat speel nie. Sorg ook dat daar meer struktuur is vir ’n kind wat sukkel hiermee. Dit is nie noodwendig ’n permanente oplossing nie, maar die kind kry wel die geleentheid om ander gedrag aan te leer.

Jy kan ’n kind ook alternatiewe aanleer. Hier volg ’n paar moontlike idees:

  • die kind kan ’n kussing byt sodra hy voel hy word kwaad;
  • vra vir hulp by ’n volwassene indien iemand sy speelgoed afvat;
  • leer die kind om te deel;
  • leer die kind om te ruil en beurte te maak.

Hanlie Snyman is ‘n sielkundige in privaat praktyk in die Paarl. Kontak haar by 076 988 0402 (selfoon) of 021 8633127/8 (kantoor). Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.

Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …