Articles

Kom ons beweeg

Deur Hanlie Snyman

Die Paarl is weer in rep en roer hierdie maand, siende dat Interskole op hande is! So ek het gedink dit sal van toepassing wees om hierdie artikel te skryf oor die belangrikheid van fisiese aktiwiteit op psigiese gesondheid van skoolleerders. Nou wat klassifiseer as psigiese gesondheid? In die algemeen is iemand psigies ‘gesond’ wanneer daar ‘n afwesigheid is aan geestelike probleme, soos angs en depressie, en wanneer daar ‘n aanwesigheid is van ‘n positiewe gevoel van selfwaarde.

In terme van kinders en tieners, sal ons psigiese gesondheid onder andere ook assosieer met ‘n positiewe houding ten opsigte van skool. Maar om aan te sluit by die onderwerp, kyk ons na die verhouding tussen fisiese aktiwiteit in skoolleerders en die invloed wat dit het op hulle psigiese gesondheid. Navorsing op hierdie terrein onder kinders en jongmense is nog redelik beperk in terme van die invloed wat dit op skoolprestasie het, maar aan die ander kant kan ons ten minste met sekerheid sê dat dit verseker nie ‘n negatiewe invloed daarop het nie. Meeste studies kyk na die effek wat sport en fisiese aktiwiteit op ‘n spesifieke eienskap of vaardigheid van ‘n individu het, soos dat dit aandag en konsentrasie verbeter weens die fisiologiese meganisme van beter bloedtoevoer na die brein, asook die vrystelling van endorfines. Ander studies fokus byvoorbeeld op aspekte soos wen, verloor en samewerking tydens sportbeoefening en die invloed wat dit op ‘n individu se selfreflektiewe vermoëns en selfregulering het.

Meestal word daar ook gekyk na die effek wat sport beoefening het op gesonde kinders en tieners, maar wat van die groep waarby daar sprake is van gedrag- of emosionele probleme?
Daar was redelik onlangs ‘n studie gedoen om te kyk na hoe kinders met ADHD en angs en depressie gehelp kan word deur middel van sport. Ons gaan vervolgens kyk na die resultate wat behaal is.

ADHD

(Aandagafleibaarheid met/sonder Hiperaktiwiteit – Attention Deficit/Hyperactive Disorder)
Vir kinders en tieners met ADHD kan sportdeelname problematies wees omdat hulle soms opvlieënde gedrag, ongepaste reaksies, verkorte aandagspan en impulsiwiteit toon. Daarby word hulle ook nie altyd aanvaar deur hulle spanmaats nie. Positiewe ervarings is dan juis belangrik vir hierdie kinders sodat dit ‘n positiewe effek het op hulle selfvertroue en gedrag kan hê. Daar is ook ‘n aanduiding dat kinders met ADHD beter vaar wanneer hulle individuele sporte beoefen, omdat hulle hierdeur minder probleme teëkom as by ‘n spansport. Direkte effekte van sportbeoefening op die simptome van ADHD dui op ‘n moontlike verbetering van aandag, en daarom sal sport alleen nie ‘n voldoende behandeling wees vir ADHD nie. Motoriese vaardighede kan verbeter, sowel as ‘n gevoel van selfwaarde, asook verbetering van sosiale vaardighede.

Angs en depressie

Kinders en tieners met ‘n angsversteuring probeer om stresvolle situasies te vermy. Verder word die
deelname aan sport bemoeilik vir hierdie jongmense deur probleme wat hulle ervaar met emosionele selfregulering, beperkte sosiale vaardighede en moeite om voldoende aandag te fokus op die belangrikheid van die sport vir hulle gemoed. Angstige kinders baat by sport omdat hulle sosiale kontak maak, leer om spanning te hanteer en weens positiewe ervarings kan hulle selfbeeld verhoog. Belangrik hier is dat dit nie te doen het met die bereik van ‘n spesifieke doel nie, maar veral oor die genot van die sport op daardie spesifieke oomblik. Kinders en tieners met depressiewe gevoelens voel dikwels dat hulle nie goed genoeg is nie en dink dat ander mense baie beter is as hulle. Hulle ervaar ook dikwels ‘n sterk gevoel van moontlike mislukking en dit veroorsaak ook dikwels dat hulle nie wil deelneem aan sport nie. Sportdeelname kan egter baie positief wees vir kinders en jongmense met depressiewe gevoelens, omdat navorsing aantoon dat dit ‘n positiewe bydrae lewer tot die behandeling van gemoedsversteurings. Die negatiewe spiraal van moegheid en lae energie kan ook verbreek word. Voorwaardes vir suksesvolle deelname is gewoonlik dat die aktiwiteit genot moet verskaf en dat die intensiteit daarvan matig is en sal aansluit by die vlak van die deelnemer.

Daar is duidelike bewyse vir die gunstige uitwerking van fisiese aktiwiteit op depressie, en dat aktiewe mense beter kan omgaan met alledaagse stress, oor die algemeen gelukkiger is en ongeag hulle ouderdom ook meer tevrede is met hulle lewens as mense wat nie deelneem aan sport of fisiese aktiwiteite nie. Studies het al aangedui dat daar ook by tieners ‘n korrelasie is tussen fisiese aktiwiteit en beter verhoudings met ouers en sibbe.

So waarop kom dit neer? Is sport ‘n wondermiddel? Dit wil voorkom dat aktiewe individue minder gevoelig is vir spanning wat verbonde is aan leefstyl, skool of werk. Daarom is die rol wat fisiese aktiwiteit kan speel meer voorkomend as genesend. Die toegevoegde waarde van sport en ‘n aktiewe leefstyl is dat dit ‘n positiewe effek het op die liggaam en op die individu se selfbeeld, wat weer kan bydra tot veranderinge op ander gebiede. Wanneer ons praat van psigiese welstand en of sport as intervensie ingestel kan word, is die antwoord dat dit parallel moet loop aan ander aktiwiteite binne ‘n behandelplan, sodat dit probleme verminder of oplos.

Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …