Articles

Ma ek’s verveeld!

Geskryf deur Hanlie Snyman

Binnekort is dit somervakansie. Sommige van ons gaan see toe, ander gaan kuier by familie wat hulle lanklaas gesien het. Die res van ons bly by die huis en geniet die heerlike sonskyndae terwyl ons werk in die tuin, dalk langs ’n swembad lê, of sorgeloos die een boek na die ander lees. Hierdie klink na ideale scenario’s, maar hoe gemaak met die jongspan wat hou van avontuur en voortdurende vermaak? Die skole gaan sluit en hulle sal nie weer oopmaak tot eind Januarie nie (maak nie saak hoe hard jy gaan klop aan die skool se deure of tik aan die vensters nie – die skool is gesluit!). Kinders geniet gewoonlik vakansies – daar is geen huiswerk nie en dit is nooit nodig om vroeg op te staan nie…maar soms slaan die verveling toe. Hoe kan ons as ouers voorsorg tref dat ons kinders nie verveeld gaan raak binne hierdie twee maande nie?

Sorg vir struktuur en maak ‘n beplanning.

Ouers geniet dit dikwels as hulle in die vakansie geen rekening hoef te hou met beplanning en vaste tye nie. Tog gee dit vir jou kind rustigheid as jy in die vakansie aan die ‘normale’ struktuur vashou. Laat die kinders op vaste tye opstaan en maaltye eet. Beplan ook vantevore watter aktiwiteite julle gaan onderneem. Benoem byvoorbeeld dat jy elke week één groot en twee klein aktiwiteite gaan onderneem en gee aan op watter dag dit gaan gebeur.

Aktiwiteite wat kan sorg vir opwinding en vermaak:

  • Doen navorsing
    Daar is ‘n oulike webwerf wat u kan besoek waarop alle opkomende aktiwiteite in die Boland en Kaap-omgewing te sien is. Gaan kyk gerus daarop: www.capetownmagazine.com. Kyk ook in jou plaaslike koerant vir enige vermaaklikhede en aktiwiteite wat tydens die somermaande gaan plaasvind.
  • Kry vars buitelug
    Ons bly in ‘n pragtige deel van die land. Buitelanders stroom na die Wes-Kaap om ons wit strande en natuur te kom geniet, so waarom nie self nuwe dele ontdek nie? Vat die jongspan see toe (besoek ‘n strand waar julle nog nie van tevore was nie en wees verseker dat hulle hulself vir ure sal vermaak (neem balle en/of ‘beach bats’ saam). Sluit die dag af met ‘n roomys terwyl die son onder gaan. Geniet andersins ‘n heerlike piekniek onder die bome in die wynlande. Onthou, dit is nie nodig om baie geld te spandeer nie. Hou veral rekening met petrolverbruik, maar verder hoef dit nie ‘n duur uitstappie te wees nie.
  • ‘n Temadag
    Organiseer ‘n temadag by die huis of in jou eie tuin. Trek die kinders aan, dink aan speletjies en beplan ook die kos volgens die tema. Kleredrag en speletjies van ander lande is ook opvoedkundig en sluit die dag af met ‘n tradisionele ete of nagereg van die spesifieke land.
  • Kampeer in die tuin
    Slaan ‘n tent op in die tuin en maak in die aand ‘n kampvuur (of braai!) en sing liedjies saam met jou kinders en vertel vir hulle stories. Daar is niks lekkerder vir ‘n kind as ma en/of pa wat die nag dan saam met hulle in die tent slaap nie!
  • Toeris in jou eie stad
    Benader jou eie stad as ‘n toeris. Soek op die internet besienswaardighede, miskien het jy self nog nooit daarvan gehoor nie. So leer jy ook jou eie omgewing beter ken.
  • Maak ‘n dagboek
    Vir baie kinders is dit opwindend om ‘n eie dagboek te hê. Skryf of teken elke dag iets saam met jou kind in die (vakansie) dagboek.
  • Die ‘ek-verveel-my’ pot
    Maak saam met jou kind aan die begin van die vakansie ‘n lys met idees vir aktiwiteite of take. Skryf dit op klein papiertjies en gooi dit in ‘n pot. As jou kind verveeld is, kan hy/sy ‘n papiertjie uit die pot neem en julle kan dan saam (of hy/sy alleen) die aktiwiteit gaan doen.

En die uiteinde, ‘n droom vakansie….

Sommige mense voel skuldig teenoor kinders as hulle nie op ‘n (luukse) vakansie kan gaan nie. Maar ons vergeet dat ‘n kinderhand vinnig gevul is. Wees kreatief en dink uit die boks. Met hierdie aktiwiteite gee jy jou kind ‘n droom vakansie en skep jy ook meer as genoeg geleentheid om tyd saam met hom/haar te spandeer en julle verhouding te versterk.
Ander handige webtuistes:

  • www.capetownkids.co.za
  • www.winelands.co.za
  • www.paarlonline.co.za
  • www.whatsonincapetown.co.za
  • www.ctsc.org.za
  • www.uncoverthecape.co.za
  • www.sanbi.org
Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …