Articles

Moeilike Vrae oor Tieners en Alkohol.

Deur Hanlie Snyman

Om met jou kind te praat oor drank is altyd ingewikkeld. Daar is feite wat jy moet kommunikeer: skade aan die ontwikkeling van die brein; skade aan emosionele, fisiese en geestelike gesondheid; verswakte oordeel wat ‘n jong lewe kan verwoes en dodelik kan uitdraai. Maar daar is ook ander vrae. Vrae oor byvoorbeeld wat jy verkies om te sê, en hoe en wanneer om dit te sê. Hier volg meer inligting oor moeilike vrae wat ouers geneig is om in die gesig te staar.

Wat is die krag van suggestie?

Stel jou seun is 11 of 12 en is oningelig en onbewus van alkohol en dwelms. Kies jy om sy onskuld te bewaar, of benader jy die onderwerp? Ouers vrees dikwels dat deur die onderwerp aan te raak, sal hulle hul kinders laat dink oor kwessies waaroor hulle andersinds onbewus sou gewees het. Dikwels is ons bang vir die krag van suggestie, hoewel dit nie noodwendig deel is van die probleem nie. John Duffy, sielkundige en skrywer van The Available Parent: Radical Optimism for Raising Teens and Tweens, sê dat deur nie te praat daaroor nie, eintlik deel is van die probleem. Duffy bepleit ‘n oop, eerlike benadering, en raai ouers aan om voorbeelde in die media (of die “regte wêreld”) te gebruik om besprekings uit te lok. Wanneer jy dit doen, is dit belangrik om rekening te hou met jou kind se vlak van volwassenheid. Nietemin, as jou kind ‘n tiener is en jy het nog nie hierdie gesprek met hom/haar gehad nie, moet jy dit nou doen.

Moet ek saans ‘n veilige rit huistoe aanbied?

Ouers is dikwels bekommerd dat deur aan te bied om hul kinders op te tel na ‘n partytjie of ‘n aand uit, hulle stilswyende toestemming vir die kind gee om betrokke te raak in riskante gedrag. Maar hierdie is ‘n kwessie van veiligheid. Doen dit net, en môre praat julle daaroor. In sy boek waarsku Duffy dat ‘n “geen vrae gevra beleid” slegs in die nag toegepas moet word. Dit is nutteloos om ernstig te praat met ‘n dronk volwassene, net so sal dit nie werk met ‘n dronk tiener nie. “Maar,” sê Duffy, “laat ruimte vir die gevolge”. Gaan sit die volgende dag saam met jou tiener en praat oor wat gebeur het, en sorg dat daar redelike en vooraf bespreekte gevolge op die tafel gelê word.
Ouers kan aanbied om hulle kinders op te tel na ‘n aand uit, sonder om gemengde boodskappe aan hulle oor te dra. In jou bespreking met jou kind oor die gevare van alkohol, vertel dan in dieselfde asem dat jy onder alle omstandighede hom/haar sal optel. Indirek se jy ook vir jou kind dat hy belangrik is vir jou, jy het hom onvoorwaardelik lief, en jy sal hom altyd beskerm.

Deel jy jou eie geskiedenis?

Die navorsing hieroor is beperk. Wat wel algemeen bekend is, is dat die risiko vir alkohol- en dwelmgebruik verminder indien ouers genoegsame inligting oor substanse aan hul kinders gee, asook om self ‘n goeie voorbeeld te wees. John Duffy het gemengde gevoelens hieroor: “Dit is ‘n moeilike een” sê hy. “Daar is tog ‘n bietjie van die krag van suggestie hier”. Jonger kinders kan dit inlees as toestemming om te eksperimenteer wanneer jy hulle vertel dat jy gerook het, of dwelms of alkohol gebruik het. Maar vir die ouer tieners, kan dit nuttig wees. “Op 11 is dit nie ‘n goeie idee om persoonlike geskiedenis te deel nie (tensy dit positief is). Op 18 of 19, kan dit baie behulpsaam wees.”

Leer jy jou kind van drank by die huis?

“Ja,” sê Jim Matthews, M. Ed, en die skrywer van Parents’ Guide to College Drinking. Hy bepleit dat dit tieners leer oor die verantwoordelikhede rondom alkohol – dit leer hulle die verskille tussen bier, wyn en sterk drank en verduidelik die effek wat elk van hierdie verskillende tipes alkoholiese drankies (en hoeveelhede) op mense het. “Jong mense moet inligting hieroor hê. Dit is inligting wat hulle nie tans kry nie,” sê hy.

Wat is die beste manier om hierdie inligting oor te dra? Benewens feite en gereelde openhartige gesprekke, rapporteer sommige families dat hulle ‘n ‘alkohol smaak-toets’ met hul kinders doen. In die VSA laat sowat 30 state toe dat ouers hul minderjarige kinders drankies gee by die huis en ‘n paar state laat ouers toe om vir hulle minderjarige kinders ‘n drankie in ‘n restaurant te koop. Volgens Matthews is die aanbeveling in hierdie geval ‘n baie klein hoeveelheid, een of twee keer saam met ‘n gesellige familie byeenkoms. Moenie jou tiener toelaat om gereeld by die huis te drink nie. Dit het negatiewe effekte op jou kind se ontwikkelling, omdat dit skadelik is vir die brein en kan lei tot gevaarlik gewoontevormende gedrag.

Hanlie Snyman is ‘n Opvoedkundige Sielkundige in privaat praktyk in die Bellville. Kontak haar by 076 988 0402 (selfoon) of 021 9462807 (kantoor). Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.

Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …