Articles

Prestasie-angs…daag jouself uit!

Deur Hanlie Snyman

He who fears being conquered is sure of defeat.
– Napoléon Bonaparte

Gesonde spanning stimuleer ons om aan die werk te spring en om, onder andere, konsentrasie te verhoog. Ligte spanning verhoog die vrystelling van noradrenalien, waardeur ’n mens se aandag verhoog – en dit kom nogal handig te pas wanneer jy moet studeer.

Maar spanning kan ook te veel word. En sodra spanning binne die konteks van leer en presteer te veel raak, praat ons van negatiewe spanning of prestasie-angs. Dit is die angs wat ontstaan as jy moet presteer en dan in die vervolg sorg hierdie angs eintlik dat jy slegter resultate behaal as wat jy sou indien daar gesonde spanning was. Dit voel dan asof jy ‘toeslaan’ of ‘n ‘black-out’ kry.

Prestasie-angs kan aan die ander kant ook sorg dat jy baie goeie resultate behaal (positiewe prestasie-angs), omdat jy aanhou dink dat jy nie jou werk goed genoeg ken nie en daarom gaan jy dan in oormaat daarvoor voorberei. Beide negatiewe- en positiewe prestasie-angs verskaf ongemak omdat hulle hope (emosionele) tyd en energie verg.

Dikwels is dit so dat leerlinge of studente met prestasie-angs ’n lae selfbeeld het, dat hulle dikwels baie hoë eise aan hulleself stel, of dat hulle dink dat hulle mag geen foute maak nie.

Daar is vier fasette van prestasie-angs:

  • situasie (eksamen, toetse, mondelings)
  • gedagte (“ek is die enigste wat dit nie verstaan nie”, of “ek gaan ‘n ‘black-out’ kry”)
  • gevoel (angs, onsekerheid, magteloosheid)
  • gedrag (iemand kan ooraktief te werk gaan, deur byvoorbeeld ure voor die boeke te sit, OF ’n persoon kan juis passief raak deur uit te stel of te vermy)

Wat jy dink en voel, kan liggaamlik manifesteer in sweet, vinnige asemhaling, hartkloppings, duiseligheid, sweterige hande en hoofpyn. En wanneer jy in hierdie patroon vassit, is dit moeilik om te bepaal wat presies gebeur het, waarvoor jy bang is, en hoe kan jy die wiel terugdraai na die tyd wat jy nog gevoel het jy is OK?

Toekomsvoorspellende gedagte: die bron en krag daarvan

Angs is ’n wonderlike fenomeen: jy het bepaalde (negatiewe) gevoelens oor iets wat nog moet plaasvind. Maar waarom bekommer jy jou daaroor: niemand weet tog wat presies in die toekoms gaan gebeur nie?

Mense met prestasie-angs, of enige ander vorm van angs, dink hulle kan die toekoms voorspel. Of, om dit nog duideliker te probeer formuleer: hulle voorspel ’n bepaalde toekoms wat in die meeste gevalle vorm gee aan ’n situasie of ’n scenario wat hulle vrees (so dikwels gebeur dit dan ook). As ons hierdie in gedagte hou, dan verstaan ons hoekom mense met prestasie-angs dikwels aangewys word as hulle eie toedoen (bv. “sien, ek kan dit nie doen nie”), en ook sal hulle dan positiewe resultate toeken aan toeval, of iets waaroor hulle geen beheer gehad het nie (“ek was net gelukkig hierdie keer” of “selfs die swakste presteerder in die klas het deurgekom”).

Hierdie toekomsvoorspellings is dikwels gebaseer op negatiewe gebeurtenisse uit die verlede wat tot toepaslike konklusies of oortuigings gelei het (“as ek nie aan sekere verwagtinge voldoen nie, gaan hulle nie meer van my hou nie” of “solank ek aanhou misluk, bly mense my vra hoe dit gaan en dit laat my goed voel”). Hierdie oortuigings dra sommige mense al baie lank saam met hulle, selfs al vanaf hulle kinderjare.

Die volgende is tipiese negatiewe gedagtepatrone van ’n persoon met prestasie-angs:

  • Oorsaak-gevolg, bv: As ek dit nie die eerste keer deurkom nie, sal ek nooit eendag ’n goeie professionele persoon word nie. Hier kan mens sien dat twee belangrike onderwerpe aan mekaar gekoppel word, sonder dat daar werklik ’n verband tussen hulle bestaan.
  • Gedagtes lees, bv: As ek dit nie deurkom nie, gaan almal dink dat ek dom is.
  • Veralgemening, bv: Wiskunde eksamens is onmoontlik om deur te kom.

Hierdie foutiewe denke het dikwels ‘n (onbewuste) oorsprong, en gelukkig kan ons ’n teenargument met hulle voer (“altyd?”, “sê wie?”, “hoekom is jy so seker daarvan?”, “is dit moontlik dat daar ’n uitsondering is in hierdie geval?”).

Vrae wat jy kan stel en ander wenke

  • Waarvoor is jy presies bang, en in watter fase van die studieproses?
  • Wat gebeur presies met jou (fisiek, gedagtes, gevoelens)?
  • Probeer om te verstaan waar die angs vandaan kom deur ’n klomp vrae vir jouself daaroor te stel (in watter situasies voel ek so? wanneer voel ek so? waarvoor is ek presies bang?), of neem ’n vel papier en voltooi die volgende sinne:
    • [prestasie] beteken vir my…
    • [die sertifikaat/graad/diploma] beteken vir my…
    • [om te voldoen aan verwagtinge] is…
    • [deur eise aan myself te stel] lewer die volgende vir my op …
  • Bepaal of jou angs gekoppel is aan ’n sekere vorm van eksamenvrae (bv. meerkeuse vrae, lang vrae, mondelinge eksamen, ens.)
  • Analiseer (moontlik met behulp van ’n professionele persoon) jou selfbeeld en werk aan ’n positiewe selfbeeld deur te kyk na jou suksesse.
  • Doen ontspanningsoefeninge.
  • Identifiseer jou negatiewe gedragpatrone.
  • Formuleer positiewe sinne wat jou inspireer en ondersteun, skryf hulle neer en plak dit op jou spieël, of sit dit in jou beursie.
  • Doen asemhalingsoefeninge.

Hanlie Snyman is ‘n sielkundige in privaat praktyk in die Paarl. Kontak haar by 076 988 0402 (selfoon) of 021 8633127/8 (kantoor). Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.

Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …