Articles

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman

Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste paar weke voor die skuif gevul wees met angs, maar ook met opwinding. Die volgende wenke sal jou help om jou kind se oorgang na (hoër)skool gladder te laat verloop.

Maak ‘n spanpoging.

Wanneer daar ‘n keuse is tussen verskillende skole, praat met jou kind oor wat elkeen van hulle te biede het.

Bly positief!

Wanneer die eerste dag nader kom, begin praat met jou kind oor haar verwagtinge, hoop, en vrese vir die komende skooljaar. Stel haar gerus dat ander kinders net soos sy voel en dat sy ongetwyfeld ‘n baie lekker jaar gaan hê. Verduidelik vir haar dat skool ‘n plek is waar sy nuwe dinge sal leer en baie vriende sal maak.

Moedig betrokkenheid aan van buitemuurse-aktiwiteite.

Hoewel jy nie jou kind wil ooreis nie, is deelname aan een of twee aktiwiteite belangrik, veral aktiwiteite wat sy belangstelling prikkel. Hy sal ook meer geneig wees om beter akademiese insette te gee indien hy verbind voel aan die skool deur middel van ‘n skoolaktiwiteit, klub, of sport. Praat met hom oor sy doelwitte vir die jaar en hoe hy graag betrokke sou wou wees by die skool buite die klaskamer.

Kry genoeg slaap en rus.

Indien jou kind ‘n lang vakansie geniet het, van laat nagte en lui oggende, gaan die aanpassing groot wees om hom vroeg wakker en uitgerus te hê vir die eerste skooldag. Help om hierdie oorgang makliker te maak deur die skool-roetine ‘n week of twee vantevore in te stel.

Doen ‘n proeflopie.

Indien jou kind die oorgang moet maak van laerskool na hoërskool, maak seker dat jou kind weet waarheen om te gaan en wat om te doen op die eerste oggend. Vir nuwe leerders is dit altyd gerusstellend om te weet waar die bushalte is, of indien sy loop, die kaart vir hoe om die vinnigste en veiligste by die skool uit te kom. Vermy verlate plekke, of plekke waar daar nie baie mense is nie. Waarsku jou kind om altyd met ‘n vriend of vriendin te loop en uit te kyk vir veilige plekke in geval van nood.

Skryfbehoeftes en benodigdhede

Maak seker dat julle presies weet watter skryfbehoeftes en benodigdhede van die skool vereis word. Die meeste skole stuur ‘n handige lys uit vir die laer grade, maar indien nie, neem dit op jouself om te vra en doen dan die aankoop van die items so gou as moontlik. Hoërskoolleerders moet verseker ‘n dagboek en pen saambring op die eerste dag.

Voorbereiding vir skooldag

Ten einde die oggend stormloop te vermy, organiseer die aand van te vore. Lê klere uit, sit kospakkies in vir pouse en pak jou skooltas. Maak seker dat almal vroeg wakker is sodat daar genoeg tyd is om klaar te maak.

Maak ‘n gesonde begin.

Moedig jou kind aan om ‘n goeie ontbyt te eet en pak ‘n gesonde versnapering in sodat sy/haar energievlakke goed is gedurende die dag. Vermy soetgoed en gaskoeldrank.

Vergesel jou kleintjie en maak kennis.

Selfs as jou laerskoolkind gedurende die jaar busry of te voet skooltoe gaan, is dit belangrik dat jy jou kind skooltoe neem op die eerste dag, veral as dit lyk of hy senuweeagtig is. Jong kinders is dikwels ook skaam om ‘n nuwe onderwyser te ontmoet. Vergesel jou kind die eerste dag na die klaskamer. Stel die onderwyser in kennis indien daar enige spesiale belange of uitdagings is wat jou kind het.

Doen navorsing oor skool.

Deur saam met jou kind boekies te lees oor wat skool is, is ‘n goeie manier om die leesgewoonte te vestig, maar ook om gesprekke oor die opwinding en vrese rondom skool te begin. Hier is ‘n paar voorstelle vir laerskool-ouderdom kinders:

  • Hartmann, W. en Rankin, J. Sisi gaan skooltoe en ander stories. Human en Rousseau, 2013
  • Greven, Alec. Rules for School. Collins, 2010.
  • Rankin, Joan. Die Eerste Dag. Pan Macmillan, 2009.
  • Forward, Toby. The First Day of School. Picture Corgi, 2005.

Hanlie Snyman is ‘n opvoedkundige sielkundige in privaat praktyk. Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.

Comments for this post are closed.

Wenke vir jou kind se eerste skooldag

Deur Hanlie Snyman Wanneer jou kind ‘n nuwe omgewing betree, of die sprong maak van laerskool na hoërskool, kan die eerste …

Wat doen selfversekerde vrouens anders?

Deur Hanlie Snyman Sien jy haar voor jou? Die selfversekerde vrou aan wie jy gedink het toe jy die opskrif van hierdie artikel …

Sielkunde en intuïsie: die belangrikheid van die eerste indruk

Deur Hanlie Snyman Die eerste indruk wat jy van iemand kry is dikwels bepalend vir jou algehele oordeel oor die persoon. …